‘Hänsel und Gretel’ gaan jou betower

  • Post author:

Kaapstad Opera se operaseisoen word ingelui met Hänsel und Gretel, allermins ’n towersprokie, tog ’n veelvlakkige ervaring wat die gehoor op vele vlakke stimuleer. Wayne Muller gee vier sterre vir dié produksie in die Kunstekaap-operahuis. Towerkuns en vrees is die bestanddele van sprokiesverhale. Goed en kwaad stamp koppe, uiteindelik wen goed, en so leer kinders om eerder die goeie na te streef. Maar hierdie stryd tussen goed en kwaad neem dikwels groteske kinkels, want Wolf sluk Ouma heel in of, soos in die geval van Hansie en Grietjie, word die bose heks deur ’n vlammende oond verorber. Engelbert Humperdinck se opera Hänsel und Gretel, byna 20 jaar laas in Kaapstad opgevoer, is nie ’n towersprokie nie, al oorwin goed die bose. Die musiek, met sy invloede van Wagner, laat ’n mens die speelsheid van die kinderkarakters vergeet en hul tog vanaf hul ouerhuis tot die heks se lekkergoedhuis voel epies, al is hierdie opera maar sowat twee uur lank. Roger Ballen het as fotograaf bekend geword vir sy portrette van arm Afrikaners. Sy ontwerpe vir hierdie produksie is die groot trekpleister. Soos sy destydse foto’s is daar iets grotesk (’n woord wat hier vooroordele na vore bring) dog menslik aan hierdie produksie. Sy gesigsketse is vreesaanjaend en donker, maar terselfdertyd uitlokkend en aanloklik. Ons vind Hansie (Ané Pretorius) en Grietjie (Brittany Smith) in hul ouerhuis, wat van allerlei beplaksels aanmekaargeslaan is. Die vuil huis en leë koskaste wys nie alleen hul armoede nie, dit lê ook opgesluit in ’n stereotipe dat arm kinders die “perverse” – hul geslagsdele en falliese innuendo – hul speelgoed maak. Bloedskande word meer as bloot op gesinspeel. Grietjie (Brittany Smith) en Hansie (Ané Pretorius) in ‘Hänsel und Gretel’. Die fotograaf en kunstenaar Roger Ballen was verantwoordelik vir die stel. Foto: Kim Stevens Hul ma (Janelle Visagie) se tande is uit, haar hare woes en haar bene vuil van die roet. En wanneer die pa (Martin Mkhize) huis toe kom, word die besemstok ’n simbool van gesinsgeweld én seks. Dit boesem vrees by die kinders in, en hulle vind ontvlugting in die donker woud terwyl hulle aarbeie gaan pluk. Niks van hierdie groteske is “ingebring” nie, dit lê tog in die libretto se subteks. Die stel en kostuum, deur Ballen en Marguerite Rossouw, is intiem en kriewel onder jou vel. Kobus Rossouw se beligting bring donkerte na die verhoog. Dit word alles puik saamgebring in Alessandro Talevi se regie, wat die wisselspel tussen karakters en milieu soveel kragtiger maak. Tog gaan die magiese hier nie verlore tussen alles grotesk nie. Die hekserit is ’n videoprojeksie vol penisse (’n verwerking van Ballen se video-werk Theatre of Apparitions, 2016); die engele gly oor mekaar en kry lewe in ’n spasie wat dood lyk; hande met lekkernye hang teen die heks (Bongiwe Nakani) se huis se mure en lok kinders; die oond is ’n bloedrooi mond. En die sandman (Ernestine Stuurman) en doufeetjie (Jodie Khan) sal geen kind rustig laat slaap nie. Al die sangers was ’n plesier om na te luister, veral Mkhize se baritonstem. Pretorius en Smith se stemme het goed saamgewerk, en die pragtige duet “Abends, will ich schlafen gehen” is dromerig gesing. Eweneens het die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, onder leiding van Kazem Abdullah, ’n vol en warm klank voortgebring wat terselfdertyd die groteske en magiese verhelder het, soos in die mooie Droompantomime. Die kreatiewe span het hier ’n operaproduksie geskep wat die gehoor op verskeie vlakke en wyses stimuleer, sonder om té oordadig of té uitlokkend te wees.

Deur Wayne Muller